Twee dood, 500 dakloos in Wes-Kaapse brand
2010-08-22 11:30
Twee mense is dood in ‘n vuur by die Overhill informele nedersetting in Kleinmond en ongeveer 500 inwoners is dakloos gelaat.
Tussen 270 en 280 blyplekke het in die vroeë oggendure afgebrand. Daar het ‘n wind teen 90 km per uur gewaai, wat die vlamme vinnig laat versprei het.
“’n Inwoner het aan die slaap geraak en sy kers het omgeval. Só het die vuur ontstaan,” het Cecile Jonkheid, woordvoerder van die Overstrand Munisipaliteit gesê.
Volgens Jonkheid kon die twee slagoffers se lyke nog nie uitgeken word nie, omdat dit erg verbrand is. Sy het gesê die meeste van die inwoners bly by familie en vriende, maar daar is omtrent 200 wat nou in die gemeenskapsaal gehuisves word.
“Die publiek is baie vrygewig met donasies. Die burgemeester en sy vrou het nou net hier kos en komberse en weggooidoeke vir die babas uitgedeel.”
Jonkheid het gesê brandbestryders was vinnig op die toneel, maar die wind het die vuur te vinnig versprei.
- SAPA