Twee by baba se begrafnis; net ma kry borg
2011-12-20 08:54
Hanti Otto
Johannesburg – Die ma en stiefpa wat van die moord op ’n drie weke oue baba aangekla word, kan vandag sy begrafnis bywoon.
Maar dan moet Christiaan Oldewage (27) weer terug tronk toe, want net sy vrou, Juanita (25), is gister borgtog van R1 000 in die Pretoria-Noord-landdroshof toegestaan.
Landdros Nico Noeth het gelas dat hy eers ’n sielkundige evaluering van die stiefpa en die lykskouingsverslag wil sien voordat hy mnr. Oldewage se borgtogaansoek kan oorweeg.
Die egpaar van Sinoville, in die noorde van Pretoria, is twee maande gelede getroud. Klein Christiaan Oldewage is op 12 Desember dood.
Volgens dokters het hy ’n skedelbreuk en drie gebreekte ribbes gehad. Hulle het aan ao. Christo Oelofse, ondersoekbeampte, gesê die baba is vermoedelik mishandel.
Roelof van der Merwe, mev. Oldewage se prokureur, het betoog dat sy reeds vier miskrame gehad het en klein Christiaan as haar “miracle baba” beskryf het.
Luidens die beskuldigdes se verklarings het hulle die aand wakker geword en besef Christiaan sukkel om asem te haal. Hulle het “dadelik hospitaal toe gejaag”.
“Die saak is vir my ’n geweldige skok. Ek het nie eens al vir ’n verkeersoortreding in ’n hof verskyn nie,” lui mev. Oldewage se borgtogverklaring. “My seuntjie was die eerste kind wat ek in die lewe gebring het. Soos ek verstaan, is hy dood weens ’n asemhalingsprobleem en nie weens beserings of gebeure as gevolg van my en my man se optrede nie.”
Sy wil net “bitter graag” haar baba se begrafnis bywoon.
Mnr. Oldewage het gesê hy het voor Christiaan se geboorte met die ma getrou omdat hy nie wou hê die kind moet buite-egtelik grootword nie.
“Ek en my vrou is innig lief vir hom. Ons het alles gegee om so goed as moontlik na hom om te sien,” het sy verklaring gelees.
Oelofse het getuig dat die beskuldigdes die aand van die baba se dood glo verskillende weergawes aan hospitaalpersoneel gegee het oor wat moontlik met Christiaan fout was.
“Die stiefpa het ook aan ’n kollega van my gesê dat, as hy die kind sien, dan sien hy haat. Die dokter het verduidelik dat babas baie soepel is. Hulle doen nie onder normale omstandighede sulke beserings op nie,” het Oelofse gesê.
Verder het mev. Oldewage vroeër beweer dat haar man haar al aangerand het.
Noeth het om menslikheidsredes gesê die ondersoekbeampte moet mnr. Oldewage vandag van die Pretoria-Noord-polisieselle na die begrafnis begelei en dan weer terugneem.
Die pa se borgtogaansoek word later hervat.
- Beeld