Twee burgemeesters 'herroep'
2012-01-17 22:43
Johannesburg – Die ANC het twee van sy burgemeesters in Noordwes “herroep” vir die oortreding van ANC-beleid en beweerde korrupsie.
“’n Besluit is geneem om Boitumelo Moloi en Andrew Maphetle te herroep. Hulle werk nie saam met die organisasie nie en doen dinge op hul eie manier,” het David Kham, adjunk-streeksekretaris van die ANC, gesê.
“As jy deur die ANC ontplooi word, moet jy doen wat van jou verwag word, jy kan nie net doen wat jy wil nie. Sommige het gekies om baie anti-ANC te wees... dit affekteer die gebied van Tlokwe en die Dr Kenneth Kaunda-distrik.”
Moloi was die burgemeester van die Dr Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit, wat Tlokwe, Matlosana en Maquassi Hills insluit. Maphetle was die burgemeester van die Tlokwe-plaaslike munisipaliteit.
Ook die party se streeksekretaris, Aubuti Chika, is geskors omdat hy nie sy pligte nagekom het nie.
Die DA het gesê Maphetle se verwydering behoort die pad oop te maak vir Dakota Legoete, ‘n vorige burgemeesterskandidaat wat oorsien is nadat hy na bewering betrokke was by korrupsie in Tswaing.
“Hierdie is ‘n politieke tsunami om sekere ‘kaders’ uit te haal en hulle te vervang met lede wat meer polities gemaklik by die ANC is. Dit het niks te doen met die behoeftes van die mense nie,” het Chris Landsberg, woordvoerder, gesê.
Volgens Kham het die proses om plaasvervangers aan te wys reeds begin.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA