Twee beseer toe vragmotor knipmes
2010-01-16 09:54
Johannesburg - ‘n Vrou en haar seun het die dood naelskraap vrygespring toe hul motor teen ‘n vragmotor op die N3 naby Howick in KwaZulu-Natal gebots het.
Jeff Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, het gesê ‘n vragmotor met ‘n sleepwa was in die rigting van Pietermaritzburg onderweg toe dit geknipmes het en langs die pad tot stilstand gekom het.
Die vrou kon die vragmotor nie betyds vermy nie en het tussen die vragmotor en die sleepwa met haar motor beland.
Haar 18-jarige seun kon dit regkry om deur ‘n gebreekte venster te klim maar paramedici moes help om die vrou uit die motor te haal.
Sy het ernstige beserings opgedoen.
Die ma en haar seun is met 'n ambulans na die hospitaal vir behandeling geneem, het Wicks gesê.
- Sapa