Twee beseer toe vliegtuig val
2009-09-06 18:54
Johannesburg – Twee mense is beseer toe ‘n viersitplek-vliegtuig Sondag in ‘n mielieveld naby die N1 in Vanderbijlpark geval het, het paramediese werkers gesê.
“Volgens die vlieënier het die vliegtuig krag verloor en hy het dit in die mielieveld probeer land,” het Nick Dollman, woordvoerder vir Netcare 911 gesê.
Een van die vliegtuig se vlerke het die grond getref en veroorsaak dat dit omval.
Die twee mense aan boord het matige beserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
- Sapa