Twee beseer in brand in Johannesburg
2009-09-06 09:36
Johannesburg - Twee mense is beseer nadat 'n gebou in Montrosestraat tussen Sunninghill en Kayalami Sondagoggend aan die brand geslaan het, het Johannesburgse paramedici gesê.
Volgens Nick Dollman van Netcare 911, het 'n man ernstige beserings opgedoen nadat hy van die tweede vloer van die gebou af moes spring.
Paramedici het vir hom pynmedikasie gegee terwyl hulle hom op die toneel behandel het. Hy is na die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg gevlieg vir verdere behandeling.
Die ander persoon is liggies beseer met snye aan sy hande soos wat hy die vensters probeer breek het om te ontsnap.
Die restaurant waar die twee mans werk is binne in die gebou wat aan die brand geslaan het.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend, het Dollman gesê.
- Sapa