Twee Absa-kitsbanke opgeblaas
2012-01-25 15:57
Johannesburg – Twee kitsbanke is tydens ‘n poging tot roof by die Absa-bank in Libode, naby Mthatha, opgeblaas, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
Lt.kol. Mzukisi Fatyela sê polisie wat die gebied gepatrolleer het, het Dinsdagaand omstreeks 23:00 die ontploffings gehoor en na die toneel gejaag.
“Die rowers het die offisiere gesien en gevlug sonder om die geld te vat,” het hy gesê.
Hy sê die polisie sal ondersoek instel om vas te stel watter tipe plofstof gebruik is.
Een van die masjiene is heeltemal verwoes en die ander kitsbank het ligte skade opgedoen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA