Tutu se seun uitgesit oor hy nie huur betaal
2010-03-13 23:30
Johannesburg – Trevor Tutu, die seun van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, word uit sy huis in Illovo gesit, berig die Sunday Times.
Die jong Tutu het in 2007 in ‘n drieslaapkamer-dorpshuis op die grens van die Wanderers-gholfklub getrek, maar het sedert Oktober verlede jaar nie huurgeld betaal nie.
Hy skuld Mike Short, die eienaar van die huis, meer as R100 000.
Short het hom sedertdien tot die hof gewend in ‘n poging om Tutu uit te sit.
Hy het gesê dit is “ontstellend” dat iemand van so ‘n “edele” gesin só optree.
Tutu se huurkontrak is in September verlede jaar gekanselleer omdat hy nie betaal het nie, het Short se prokureur, Louise van Helden, gesê.
Hy het aan die koerant gesê hy het die huurgeld teruggehou omdat Short geweier het om die perseel ná ‘n inbraak verlede jaar te beveilig.
– Sapa