Tutu maan oor klimaatsverandering
2011-12-01 19:53
Kaapstad – Die bedreiging wat klimaatsverandering inhou, kan enige vordering wat gemaak is om Vigs te keer, irrelevant maak, het Emeritus-Aartsbiskop Desmond Tutu Donderdag gesê.
“Ons moet die uitdagings van klimaatsverandering ernstig opneem,” het hy by ‘n vigsbewustheidsgeleentheid in Noordhoek, Kaapstad, gesê.
“Dit maak byna enige vordering wat ons maak om Vigs te keer, irrelevant. Ons mag dalk Vigs oorwin, maar ons bevind waar ons verbrand of aan die verdrink is.”
Tutu, wat onlangs die Cop17-klimaatsberaad in Durban bygewoon het, het erken hy “dra twee gesigte” deur die olie-maatskappy Chevron te bedank vir hul borgskap van die Vigsbewustheidsgeleentheid.
“Chevron, ons hoop werklik julle is bewus van die groot risiko wat ons loop om ons tuiste te verwoes.”
Tutu het gesê as ontwikkelde nasies voortgaan om roekeloos koolstofgasse uit te laat, die Aarde “sal ‘poef’ gaan, en ons sal saam met dit ‘poef’ gaan”.
Die potensiaal in Suid-Afrika is “ongelooflik” en die land behoort een van die bestes ter wêreld te wees.
Tutu het mense gevra om spaarsamig te wees en nie dinge te doen soos om duur motors te koop nie.
“Dit lê by ons om te behaal wat God wil hê ons moet behaal. As almal van ons nie duur motors koop nie, sal ons genoeg hê vir almal in die land.”
Hy het gesê hy wil na sy graf gaan met ‘n glimlag op sy gesig.
“Laat my asseblief toe om na my graf te gaan met ‘n glimlag op my gesig, soos ons in 1994 gehad het toe ons gevoel het of ons die wêreld kan aanvat.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA