Tutu: 'Israel het van die Bybel vergeet'
2011-11-05 23:00
Kaapstad – Die lyding wat Israel vir Palestyne veroorsaak wys dat hulle die Joodse skrif vergeet het, het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu Saterdag gesê.
"Hulle het hulle eie geskiedenis vergeet. Hulle het vergeet wat hulle eie profete oor ons God gesê het," het Tutu in sy openingsrede aan die Internasionale Russell-tribunaal oor Palestina gesê.
"Ons aanbid 'n God wat van nature omsien na die wat ly, die wat onder is, die wat swaarkry... God is altyd aan die kant van die wat onderdruk word. In die Heilige Land is die Palestynse mense die mense wat ly."
Tutu het gesê dit hinder hom dat 'n groep mense wat self gely het, nou vir ander lyding kan veroorsaak.
"Daar is groot lyding wat verhoed kan word, wat veroorsaak word deur mense wat self soveel gely het... wat deur 'n dal van lyding gegaan het.
"Dié van ons wat Christene is, is baie sterk beïnvloed deur wat 'n mens die Joodse skrif kan noem. Die God met sy voorkeure in die verlede is die God met sy voorkeure in die hede... en as God, God is, wees op die uitkyk," het hy bygevoeg.
"Dít is die smart wat ek in my dra."
Die Russell-tribunaal is 'n internasionale forum wat daarop gemik is om vrede in die Midde-Ooste te bevorder.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA