Tukkie is 'sterk en dapper' ná 23 messteke
2011-11-01 07:02
Sonja Carstens en Hanti Otto
Pretoria – Die 22-jarige Tukkie wat verlede week 23 keer met ’n mes gesteek is voordat sy verkrag en vir dood gelaat is, is ’n “ongelooflike sterk en dapper vrou wat op haar geloof vertrou”.
“Die krag van die Here straal deur haar en haar ma,” het dr. Lets Pretorius Maandag gesê nadat hy die student in die waakeenheid van ’n hospitaal besoek het waar sy in ’n stabiele toestand is nadat agt van die meswonde wat aan haar toegedien is, potensieel dodelik was.
Pretorius het dr. Stefan Rawlins, ’n plastiese en rekonstruktiewe chirurg, en dr. Pieter Coertze, ’n ortopediese chirurg, gehelp in die ure lange noodoperasie wat hulle ná die aanval op die student uitgevoer het.
Dié student van Magalieskruin, Pretoria, wat ná die verkragting op antiretrovirale behandeling is, en haar ma het Pretorius toestemming gegee om oor die besonderhede van haar beserings te praat.
Volgens Pretorius moes ’n neurochirurg die mespunt wat in haar skedel afgebreek het, help uitboor. “Te oordeel aan die steekwonde, vermoed ek dat haar aanvaller linkshandig is,” het hy gesê.
Intussen het studentekonst. Mphikeledi Alfred Mahlanga (39) en ao. Amos Chris Masilela (48) gister in die Pretoria-Noordse streekhof verskyn op aanklagte van regsverydeling en hulpverlening tot ontvlugting nadat die Tukkie se beweerde verkragter Vrydag ontsnap het.
Die twee polisielede het hom glo sonder hand- of voetboeie na die dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, geneem omdat hy gekla het hy voel siek. Die verdagte het deur ’n toiletvenster ontsnap.
Luidens die klagstaat is die polisiebeamptes summier dieselfde dag gearresteer en later op waarskuwing vrygelaat.
Die saak is uitgestel sodat hulle regsverteenwoordiging kan bekom.
Buite die hof het die twee Beeld se fotograaf agtervolg nadat hy ’n foto van hulle geneem het. Hulle het met hul selfone foto’s van hom en sy motor se registrasienommer geneem.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, het Maandag gesê ’n interne ondersoek is na die voorval begin. Die polisie sal na gelang van dié uitslag besluit of die mans geskors word of nie.
Benewens die aanval op die Tukkie, word die verkragter weens nog drie verkragtingsvoorvalle gesoek.
Arnold van Niekerk, DA-raadslid vir dié gebied en bestuurslid van die Sinoville-gemeenskapspolisiëringsforum wat die Tukkie Maandagmiddag in die hospitaal besoek het, het gesê daar moet ’n voorbeeld van die twee polisielede gemaak word, sou daar bevind word dat hulle nie polisieprosedure gevolg het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld