Tuis ná taxi haar sleep
2011-11-28 09:00
Johannesburg – Adv. Kim McCusker, die vrou wat sowat 700 m onder ’n taxi op ’n teerpad saamgesleep is, is uit die hospitaal ontslaan en terug by die huis.
Al McCusker (26) se veloorplantings was suksesvol en sy was gretig om ná sowat 2½ maande terug huis toe te kon gaan na haar gesin en haar verloofde, het haar suster, Julia, op haar Facebook-ondersteuningsblad geskryf.
McCusker is Donderdag uit die Fourways-hospitaal ontslaan, maar is nog swak.
Weens haar veelvuldige beserings, waaronder inwendige beserings, was sy aanvanklik in die hoësorgeenheid en byna ’n week lank aan ’n ventilator gekoppel.
Doug McCusker, Kim se pa, het gesê sy dogter is nog nie sterk genoeg om onderhoude te voer nie.
“Ons is natuurlik baie bly om haar hier te hê.”
Sy sal haar behandeling en rehabilitasie as buitepasiënt voortsit.
Volgens Julia is een rede vir haar suster se ontslag uit die hospitaal dat haar ma ’n baie ervare verpleegsuster is en heeltemal daartoe in staat is om haar tuis te versorg.
“Kim was baie gretig om terug by haar gesin en verloofde te wees en die dokters was meer as tevrede om haar te ontslaan,” het Julia geskryf.
“Op die oomblik fokus Kim al haar energie op haar rehabilitasie en om die emosionele, fisieke en sielkundige trauma wat sy ervaar het, te oorkom.
Die familie is verskriklik bly om haar tuis te hê en is besig om aan ’n nuwe roetine gewoond te raak, aangesien dit baie moeite verg om na haar om te sien.”
Julia het almal wat boodskappe van ondersteuning gestuur het namens haar suster bedank.
Patlet Matome Thamage (30), die taxibestuurder, het vroeër in die hof verskyn in verband met aanklagte van poging tot moord en roekelose of nalatige bestuur.
Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy het McCusker na bewering op 13 September in Lonehill, Sandton, raak gery.
Thamage en Lourens Grobler, McCusker se verloofde, was glo in ’n onderonsie betrokke.
Thamage het ’n klag van opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer teen Grobler ingedien.
Hy beweer Grobler het hom aangerand. Grobler is ook op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Albei moet in Desember weer in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld