Tuinier sê hy’s arts en verkrag twee glo
2011-09-29 09:11
Johannesburg – ’n Tuinier word van verkragting aangekla nadat hy hom glo as ’n ginekoloog voorgedoen en twee hoogswanger vroue “ondersoek” het.
Die man (30) van Jagersfontein het op 18 September by die Diamant-hospitaal in dié dorp opgedaag vir behandeling nadat hy glo in die township aangerand is.
Jabu Mbalula, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het gesê die man was nie ernstig beseer nie en is aangesê om huis toe te gaan.
Hy moes die volgende dag terugkeer na die hospitaal vir ’n opvolg-ondersoek.
Die tuinier is toe nié huis toe nie, maar het na die hospitaal se kraamsaal gegaan. Hy het nie ’n stetoskoop by hom gehad en ook nie ’n wit jas aangehad nie, maar nogtans daarin geslaag om twee pasiënte daarvan te oortuig dat hy ’n mediese spesialis is.
Nadat hy die vroue – albei op die punt om te kraam – “ondersoek” het, is hy deur veiligheidswagte uit die hospitaal verwyder.
Letshego Moatlhodi, hoof van die Diamant-hospitaal, het die saak ná verdere ondersoek by die polisie aangemeld. Die tuinier is die dag ná die voorval in hegtenis geneem.
Kapt. Harry Nagel, provinsiale polisiewoordvoerder, sê klagte van verkragting word teen die man ondersoek.
Hy het in die hof verskyn en is op borgtog van R500 vrygelaat.
Die verrigtinge is tot 19 Oktober uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld