Tshwane-vraestelle besaai met foute
2009-11-28 07:12
Alet Rademeyer
As jy nie “ten voile” weet wat “lid moot skap” beteken nie, moet jy maar jou “nuisgesin” gaan vra.
Maar ouers van leerlinge in gr.11 in die Tshwane-Noord-onderwysdistrik was gister net so verward oor wat van hul kinders in die sakestudievraestel verwag is.
Beeld het talle klagtes van skole en ouers gekry wat meen dit lyk of niemand gister se vraestel taalversorg het voordat dit aan leerlinge uitgedeel is nie. Een klaer het 58 foute op die vraestel gemerk.
Die ma van ’n leerling verbonde aan ’n skool in Pretoria-Noord wat anoniem wil bly, het gesê “’n vraestel wat só wemel van die foute, is niks anders as ’n skande nie”.
“Het die mense wat by die proses betrokke is dan geen greintjie respek vir Afrikaans nie? En wat dink hulle doen dit aan die kinders wat deur die gemors moet lees?”
Geen deeltekens is in die vraestel gebruik nie. Daar is baie tik- en spelfoute, terwyl sommige woorde heeltemal onverstaanbaar is. Voorbeelde hiervan is: “gedwongeveid-ontleding”, “ontvang del credere kommissie”, “lid moots kap”, “nuisgesin”, “wersaam”, “Kerinner”, “hoe waorde” en “ten voile”.
Heelparty woorde het ook foutiewe spasies, byvoorbeeld “prof essionalisme”, “beoef enig”, “gedef inieer”, “ho of rede”, “bespreekal”, “s tell ing”, en “Besigheids Studies”.
Rachel Mekwa, hoofkurrikulumkundige, het onderneem om die saak te ondersoek.
- Beeld