Tshwane-metropolisie bekyk
2010-10-06 07:00
Pretoria - Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) sê die regering sal so gou moontlik iets moet doen om die publiek se “geweldig negatiewe persepsie” van metropolisielede te verander.
Dié vermaning kom nadat die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) en die polisie bekend gemaak het hulle gaan bewerings ondersoek dat ’n misdaadsindikaat in die geledere van die Tshwane-metropolisie bedrywig is. Daar word verneem die publiek loop veral in streek 6 in Tshwane deur onder korrupte metropolisielede.
Die streek sluit onder meer Hatfield en Sunnyside in.
In een van die beweerde voorvalle is ’n 17-jarige Zimbabwiër, Leon Chimatu, en sy broer drie weke gelede aangerand en op twee afsonderlike afgeleë plekke buite Pretoria afgelaai. Chimatu word sedertdien vermis.
’n Interne dokument van die Tshwane-metropolisie wat vroeër vanjaar op die lappe gekom het, het onthul dat 80 lede verlede jaar skuldig bevind is aan ’n verskeidenheid aanklagte, waaronder verkragting, roof, poging tot moord, brandstigting, huisbraak en bedrog. Nog 36 lede was verhoorafwagtend.
Daar was teen September 2009 ook 315 interne tugsake hangende weens beweerde oortredings soos bedrog, aanranding, korrupsie, omkopery, diefstal en seksuele teistering.
Dr. Johan Burger, ’n senior navorser by die ISS, sê die regering gaan nét met daadwerklike optrede die geloofwaardigheid en vertroue in die metropolisie herstel.
Hy sê dit lyk of korrupsie ’n nog groter probleem onder metropolisielede is wanneer die getalle-verhouding met die polisie in aanmerking geneem word.
“Daar is ’n geweldig negatiewe persepsie onder die publiek en meer as net woorde oor korrupsie gaan nodig wees om dié beeld te verander,” sê Burger.
Die OKD het intussen mense wat slagoffers van korrupte metropolisielede was, aangemoedig om inligting oor die voorvalle by hom aan te meld.
Dikeledi Lehobye, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, sê die bewerings van korrupsie, aanranding en afpersing teen metropolisielede is ontstellend en smeer die departement se goeie naam swart.
Lehobye sê sy beskou die aantygings in ’n ernstige lig en verwelkom die polisie en OKD se ondersoeke.
“Ons sal ons volle samewerking gee om seker te maak korrupte individue word gevind.”
Brig. Daniel Manganye, Tshwane se nuwe strategiese uitvoerende direkteur van gemeen- skapsveiligheid, sal ’n interne ondersoek begin en lei, het Lehobye bekend gemaak.
“Ek het volle vertroue in die lede wat goeie werk verrig en verseker dat ons strate veilig is.”
- Beeld