Trustees van mediese skemas duisende betaal
2011-09-07 09:07
Johannesburg – Tien nie-winsgewende mediese skemas in Suid-Afrika het in 2010 meer as R28 miljoen spandeer op salarisse vir trustees, het The Times Woensdag berig.
Stephen Mmatli van die Raad op Mediese Skemas (RMS) het gesê betalings aan trustees het oor die afgelope paar jaar toegeneem en is 'n "kommerwekkende" neiging.
"Die hele argument is dat die meerderheid van jou geld op gesondheidssorg spandeer moet word en nie in jou sak moet wees nie."
Mmatli het aan die koerant gesê vergoeding vir trustees moet 'n loon eerder as 'n salaris wees. Trustees se salarisse is 'n bydraende faktor tot die stygende kostes van mediese fondse.
Om 'n trustee te wees word nou as 'n loopbaan gesien al behels die pligte van die pos kort vergaderings vier keer 'n jaar, het hy gesê.
'n Onlangse verslag van die RMS het onthul dat dié raad die rade van twee mediese skemas wil vervang wat trustees te veel betaal.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA