Truman Prince aangekla van dronkbestuur
2010-08-01 14:16
Johannesburg – Truman Prince, die omstrede burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit is in Laingsburg in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur, het die Wes-Kaapse polisie Sondag gesê.
Hy is Saterdagmiddag gearresteer nadat daar vasgestel is dat hy roekeloos bestuur het, het insp. Lindikhaya Mkhontwana gesê.
Hy was ten tyde van die voorval saam met sy meisie gewees.
Prince is intussen op borgtog van R2000 vrygelaat.
Die polisie wag steeds op ‘n verslag vanaf die laboratorium om Prince se alkoholvlak te bevestig.
Volgens Mkhontwana kan dié verslag agt tot nege maande neem.
Hy sal dan in die landdroshof op Laingsburg verskyn.
Prince is in 2005 deur die munisipaliteit geskors op aanklagte van seksuele teistering. Hy het appél aangeteken en is in Junie 2007 weer as die munisipale bestuurder aangestel.
Hy is twee mande later wéér geskors en was die reg gegee om weer appél aan te teken en het weer sy werk terug gekry.
- Volg Nuus24 op Twitter.