Truman Prince: ‘Ons gaan koebaai sê vir Zille’
2011-06-21 09:02
Beaufort-Wes - Die ANC gaan die Wes-Kaap vanuit Beaufort-Wes terugvat.
Dít was Sondag die boodskap van Truman Prince, burgemeester van die dorp, op ’n saamtrek waar die gemeenskap bedank is vir hul ANC-stem in die onlangse verkiesing.
Pres. Jacob Zuma was veronderstel om die saamtrek by te woon, maar kon weens ’n aswolk oor Kaapstad nie daarheen vlieg nie.
Prince, geklee in ’n syhemp, swart fluweeljas en skerppunt- krokodilvelskoene, het aan die skare by die Mandlenkosi-sokkerveld gesê die ANC gaan die DA verneder. “Ons gaan hulle wys hoe ’n munisipaliteit bestuur moet word. Ons gaan koebaai sê vir Helen Zille, want hierdie is ANC-grond.
“Dié wat vir die DA gestem het, weet hulle het ’n verkeerde fout gemaak (sic): hulle besef die DA is ’n bruin trein met ’n wit kop.
“Ek wil vir dié wat vir ons gestem het, uit die diepte van my hart dankie sê, uit die diepste van die navy-blou oë van my.”
Prince het agterna aan Die Burger gesê “daar is ’n ongemaklikheid in ANC-geledere, want as burgemeester wil ek ook buite die raadsaal politieke mag hê wat nie bevraagteken word nie.
“Die administratiewe rompslomp wat groot projekte aan bande lê, soos ’n windplaas en vragmotorsentrum, is ’n groot frustrasie.”
Volgens Prince word op verskillende vlakke vir geld vir die beoogde projekte beding.
“Ons doen ’n beroep op die nasionale regering vir geld wat ons nodig het om ’n verskil te maak.
“Ons ondersoek ook beleggings uit susterstede (tweelingstede) – daar is ’n dorp met dieselfde naam in Duitsland wat ons gaan nader.”
Volgens Prince het hy ’n disfunksionele munisipaliteit van die DA geërf. Die munisipaliteit is R2,5miljoen in die rooi. Die belangrikste oorsaak is die wanbetaling van dienste. “Sowat 70% van die inwoners betaal wel, maar dit wissel van buurt tot buurt.
“Ons ondersoek die moontlikheid van ’n kredietbeheerstelsel om agterstallige dienstegeld in te vorder. Een moontlikheid is om geld direk van die inwoners se AllPay-kaart af te trek.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger