Tronkstraf vir konstabel wat tiener skiet
2012-12-04 13:10
Johannesburg – Sipho Mbatha, die 41-jarige leerlingkonstabel wat 'n tienerseun op Valentynsaand in Soweto doodgeskiet het, is Dinsdag 17 jaar tronkstraf, waarvan 5 jaar opgeskort is, opgelê.
Regter Kathy Satchwell het dié vonnis in die hooggeregshof in Johannesburg voorgelees, en gesê vonnisoplegging in die saak is veral moeilik omdat die beskuldigde nie getuig het nie.
"Vyf jaar van daardie vonnis is opgeskort op voorwaarde dat jy jou nie skuldig maak aan enige misdaad van aanranding tot moord nie," het Satchwell gesê.
Mbatha is in Augustus skuldig bevind aan die moord op Thato Mokoka, 16. Die seun is by sy ouma se huis in Bramfischerville doodgeskiet.
"Daar is geen erger misdaad as moord nie. In dié geval is die lewe van 'n jong seun, net 16, geneem. Hy het baie drome en moontlik 'n lang lewe gehad om te leef," het Satchwell gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA