'Tronke 2012 se swakste werkgewer'
2012-12-24 08:59
Kaapstad - 'n Opname deur die vakbond Solidariteit het bevind dat die departement van korrektiewe dienste die swakste werkgewer van 2012 was, het RSG Maandag berig.
Volgens dié departement se regstellende aksie plan moet elke werkplek die nasionale rasse-demografie weerspieël.
'n Woordvoerder vir Solidariteit, Johan Kruger, sê die gevolg hiervan is dat wit en bruin werkers in die Wes-Kaap byna geen kans het om aangestel of bevorder te word nie.
Solidariteit het ook aan die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, die titel van "swakste minister van die jaar" toegeken.
Joemat-Pettersson word daarvan beskuldig dat sy R1,6 miljoen van belastingbetalers se geld op hotelverblyf verkwis het.
Kruger sê hulle het ook haar hantering van die plaaswerker-staking in ag geneem.
Solidariteit het aan werkers in die mynbedryf, wat nie aan onbeskermde stakings deelgeneem het nie, die titel, "werkers van die jaar", toegeken.
Volg Nuus24 op Twitter.