Tronkdeure slaan toe vir Selebi
2011-12-06 07:00
Gerhard Pretorius en Jinine Botha
Johannesburg – Jackie Selebi sal afsonderlik van ander gevangenes in die Pretoria-Sentraal-gevangenis aangehou word – ter wille van sy veiligheid.
Selebi het hom Maandagmiddag omstreeks 16:30 by dié gevangenis aangemeld waar hy in die hospitaalafdeling aangehou word. ’n Lasbrief is vroeër in die dag in die hooggeregshof in Johannesburg deur die adjunk-regter-president goedgekeur vir Selebi se opname in die tronk.
Kol. McIntosh Polela, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het opdrag gekry om die lasbrief by dié hof op te laai en “seker te maak Selebi gaan tronk toe”.
Intussen het die DA daarop gewys dat Selebi se kans om op mediese parool vrygelaat te word “byna nul” is weens nuwe wetgewing wat in September vanjaar in werking getree het ná die omstrede vrylating van Schabir Shaik, bedrieër en eertydse finansiële raadgewer van pres. Jacob Zuma.
Selebi, voormalige nasionale kommissaris van polisie, het die naweek in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria deurgebring nadat sy aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding aan bedrog Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein van die hand gewys is.
Hy moes hom binne 48 uur vir sy tronkstraf van 15 jaar aanmeld, maar het blykbaar ineengestort nadat hy van die appèlhof se beslissing gehoor het.
Tlali Tlali, woordvoerder van die departement van justisie, het gesê “indien ’n dokter bevind Selebi kan geskuif word na enige ander plek en dat dié skuif nie sy gesondheid sal benadeel of sy lewe in gevaar sal stel nie, sal die lasbrief uitgevoer word”.
Selebi se regspan het met die griffier by die hooggeregshof in Johannesburg vergader. Dit is deur Wynanda Coetzee, sy prokureur, aan joernaliste bevestig. “Ons het die lasbrief ontvang en die griffier het aan ons gesê die saak moet nou deur normale prosesse loop.”
Selebi is net voor 16:00 in ’n bakkie uit die hospitaal “gesmokkel”. Hy is glo met ’n rolstoel uit die hospitaal gestoot en in die bakkie gelaai. Hy is na die gevangenis gebring waar die ondersoekbeampte in sy saak hom ingewag het.
Sibongile Promise Khumalo, nasionale woordvoerder van korrektiewe dienste, het bevestig dat Selebi nou ’n gevangene in die Pretoria-Sentraal-gevangenis is en dat hy daar in die hospitaalafdeling opgeneem is.
Die nasionale kommissaris van gevangenisse, komm. Tom Moyane, het Maandagaand gesê die wet op korrektiewe dienste maak daarvoor voorsiening dat polisiebeamptes en lede van die weermag of korrektiewe dienste afsonderlik van ander gevangenes aangehou kan word.
Hulle gaan dié bepaling toepas om Selebi se veiligheid te verseker omdat hulle vrees van die misdadigers wat aangekeer is terwyl hy hoof van die polisie was, kan wraak wil neem.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad