Tronkbeampte self tronk toe vir bedrog
2011-06-28 18:56
Johannesburg – ‘n Tronkbeampte van KwaZulu-Natal is Dinsdag agt jaar tronkstraf opgelê nadat hy die regering oor vyf jaar uit R1,1 miljoen bedrieg het.
Chris van Vuuren, landdros in die Pietermaritzburg-streekhof, het gesê die bedrog deur Vuleyise Vincent Ngcobo (53) was noukeurig beplan.
Die aard van die misdaad en sy gebrek en berou stel faktore soos sy ouderdom en sy 32 jaar se diens in die departement van korrektiewe dienste ter syde.
Ngcobo het by die Sevontein-tronk, ‘n plaas-tronk wat kos vir tronke vervaardig, gewerk. Hy het toesig gehou oor gevangenes se geld en eise aan die departement.
Die gevangenes is betaal vir die plaaswerk wat hulle gedoen het.
Van Vuuren het gesê ernstige korrupsie, bedrog en diefstal deur beamptes van die regering ruk handuit, ondanks pleidooie van senior beamptes om dit stop te sit.
Dat dit nodig geag word om ‘n anonieme telefoonlyn in plek te stel om dié soort oortredings te rapporteer, toon hoe laag sommige regeringsbeamptes gedaal het.
Sagte gevangenisstrawe vir sulke oortreders sal nie die situasie beredder nie, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA