Tronk toe ná seksuele dade met seuntjies
2011-11-02 08:05
Welkom – ’n Man (62) van Wesselsbron is hier in die hof vir seksuele misdade tronk toe gestuur nadat hy twee seuntjies, 4 en 10 jaar oud, verkrag en seksueel gemolesteer het.
Johannes Jacobus van Tonder het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en skuld voor landdros T. Ramdeyal beken.
Die hof het gehoor Van Tonder is ’n gevaar vir ander kinders, omdat jong seuns in die verlede ook sy prooi was.
Sy naam is nou in die register vir seksuele oortreders opgeneem.
Hy het skuld beken op aanklagte van seksuele gereedmaking, verkragting en twee aanklagte van molestering.
Van Tonder het die 10-jarige slagoffer verlede jaar gedwing om pornografiese flieks te kyk en het ook opmerkings teenoor die kind oor die flieks gemaak. Hy het hom gemolesteer en verkrag.
Die vierjarige is ook verlede jaar deur Van Tonder seksueel gemolesteer.
Van Tonder is in die verlede ook aan onsedelike aanranding skuldig bevind.
“Hy het geen beheer oor sy aksies teenoor kinders nie en hy respekteer ook nie die waardigheid van ander nie. Albei sy jongste slagoffers toon tekens van trauma en sal steeds geruime tyd terapie moet ontvang.”
Van Tonder is tot ses jaar gevangenisstraf op die twee aanklagte van seksuele molestering en seksuele gereedmaking gevonnis en tot agt jaar weens die verkragting. Hy sal die twee vonnisse samelopend uitdien.
Charmaine Labuschagne het aangekla en adv. Orpa Wessels het namens die beskuldigde verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad