Trompop-botsing eis vier
2011-01-11 22:00
Johannesburg – Vier mense is dood en twee beseer in ‘n trompop-botsing op die N18-hoofweg in Noordwes.
“Die Ford Focus was onderweg na Vryburg en het ‘n waentjie gesleep.
“Die bestuurder het ‘n ander voertuig probeer verbysteek en in die Citi Golf, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, vasgejaag,” het Lesiba Kgwela, woordvoerder vir die provinsiale departement vir menslike nedersettings, gesê.
Die bestuurder van die Golf en drie van die insittendes (‘n 24-jarige man, ‘n man in sy sestigs, ‘n vrou in haar twintigs en ‘n tienerseun) is in die ongeluk oorlede.
Twee kinders tussen die ouderdomme van vier en tien, wat ook in die Golf was, is beseer en na die Bophelong-hospitaal geneem.
Die bestuurder van die Ford is ook beseer.
‘n Saak van dubbele manslag sowel as roekelose bestuur word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.