Tribunaal sal kom, dreig ANC
2010-09-16 07:26
Kaapstad. – Parlementêre joernaliste is Woensdag met die beplande mediatribunaal gedreig nadat hulle geweier het om ’n komiteevergadering in opdrag van ANC-parlementslede te verlaat.
“Volgende jaar ... wag maar vir die mediatribunaal. Julle soek daarvoor,” het Sharon Makhubele-Mashele, ANC-LP en lid van die portefeuljekomitee oor gesondheid, gedreig. Sy het dié uitlating ten aanhore van verslaggewers aan Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, gemaak.
Daar was vroeër die oggend drama in die Marks-gebou by die parlement toe dr. Bevan Goqwana, ANC-LP en voorsitter, verslaggewers en die dekane van vyf universiteite se mediese fakulteite aangesê het om die komiteevertrek op die vyfde verdieping te verlaat.
Goqwana het aangevoer die komitee moet agter geslote deure beraadslaag oor of die dekane toegelaat moet word om met hul aanbieding voort te gaan aangesien dekane van drie ander universiteite nie opgedaag het nie.
Die verslaggewers en lede van die Persgalery-vereniging, wat parlementêre joernaliste verteenwoordig, het egter bly sit.
Goqwana is versoek om te sê ingevolge watter parlementêre reël hy die vergadering skielik geslote verklaar het.
ANC-LP’s was woedend.
“Wees eerbiedig!” het Makhubele-Mashele uitgeroep.
“Julle moet respekvol wees teenoor die voorsitter. Julle sal wel agterna uitvind wat ons besluit het,” het dr. Albertinah Luthuli gesê.
Dudley het gewaarsku die komitee “moenie in die media se hande speel nie” en voorgestel dat komiteelede die vertrek verlaat om elders in privaatheid te koukus.
“Ons kan nie so ’n presedent skep nie!” het Makhubele-Ma-shele vasgeskop.
Net Mike Waters (DA) en Papi Kganare (Cope) het gesê die komitee het geen rede om die media uit te sluit nie.
Goqwana het later aangevoer hy het ingevolge parlementêre reël no. 152 die reg om ’n vergadering geslote te verklaar. “Lees asseblief die reël,” het Waters gevra.
Daarop het Goqwana geantwoord hy het nie die reëlboek byderhand nie. Die komitee het toe in die media se teenwoordigheid beraadslaag.
Beeld het by verdere navraag verneem reël no. 152 (2) bepaal ’n komiteevergadering mag net om spesifieke redes en ná vasgestelde prosedures geslote verklaar word. Óf die vergadering moet vooraf geslote verklaar word óf die voorsitter moet ’n oop vergadering onderbreek sodat daar tydens ’n geslote sessie besluit kan word om die vergadering geslote te verklaar.
Intussen het die VF+ Max Sisulu, speaker van die parlement, versoek om ondersoek in te stel na Woensdag se gebeure.
Die ANC het drie weke gelede ook verhinder dat ’n vergadering van die portefeuljekomitee oor kommunikasie met die SAUK-raad voortgaan.
Die regerende party het op 24 Augustus besluit om dié vergadering eerder af te las nadat die hooggeregshof voorlopig in die media se guns beslis en beveel het dit mag nie agter geslote deure plaasvind nie.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het gister tot ’n vergelyk met die parlement gekom. Daar gaan nie verdere regstappe wees nie en die komitee sal oop wees.
Die ANC sal volgende week tydens sy nasionale hoofraadsvergadering in Durban ’n omstrede voorstel vir ’n mediatribunaal om die gedrukte media te reguleer, bespreek.
- Beeld