Tribunaal sal aantygings teen Hlophe ondersoek
2012-10-20 12:46
Johannesburg – ‘n Tribunaal sal saamgestel word om aantygings van wangedrag teen die Wes-Kaapse regter-president John Hlophe te ondersoek, het die Saturday Star Saterdag berig.
Hlophe se prokureur, Barnabas Xulu, het aan die koerant gesê dat hoofregter Mogoeng Mogoeng hulle ingelig het dat hy die lede van die tribunaal formeel sal aanstel. Die tribunaal sal bewerings van wangedrag wat die grondwethof teen Hlope gebring het, ondersoek, berig die koerant.
Die hof beweer dat Hlophe probeer het om twee van sy regters te beïnvloed om in Zuma se guns te beslis in ‘n saak waarby die land se wapentransaksie betrek was.
Hulle het dit gesien as ‘n onbehoorlike poging om die saak te beïnvloed.
Hlophe, wat aanstoot geneem het dat die regters ‘n kopie van die aanklag na die media gestuur het voordat hy tyd gehad het om dit te hanteer, het ‘n teen-aanklag gelê.
Die saak is uiteindelik in die hoër appèlhof aangehoor en daar is in die guns van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en die organisasie Freedom Under Law beslis.
Die appèlhof het beslis dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) beide klagtes moes heroorweeg.
Xulu het aan die Saturday Star gesê dat die RDK nog moet bekend maak wanneer die tribunaal sal begin.
Hlophe kan moontlik vervolg word as hy skuldig bevind word.
“Hy sal aanbly in sy pos as regter-president hangende die tribunaal,” het Zulu gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA