Trekker val arts dood
2012-01-23 09:00
George – ’n Bekende dokter van Knysna is Saterdagmiddag dood toe ’n trekker op hom beland het terwyl hy geploeg het.
Dr. Emile Welgemoed (41), ’n narkotiseur by ’n private hospitaal op Knysna, het op sy plaas, Groenkop, in die De Vlugt-gebied naby Uniondale geploeg toe die ongeluk plaasgevind het.
Die trekker het gerol en bo-op hom beland. Hy was vasgekeer.
Sy vrou, mev. Heidi Welgemoed, en van die plaaswerkers kon nie betyds daarin slaag om die trekker van hom te trek nie.
’n Hartseer mev. Welgemoed het Sondagmiddag aan Die Burger gesê die ongeluk het ná middagete plaasgevind.
“Hy was baie lief vir sy trekker. Hy het teen ’n wal geploeg toe die ongeluk plaasgevind het. Die trekker het gerol en in die Gykorie-rivier beland. Hy was vasgekeer. Ek en van die werkers kon die trekker nie betyds van hom af kry nie.”
Volgens Welgemoed was die plaas haar man se lewe. Hy was baie lief om daarheen te gaan.
“Hy het so gereeld as moontlik soontoe gegaan.”
Welgemoed kon die plaas net elke tweede naweek besoek omdat hy die ander naweke aan diens was.
Hy besit dit al langer as drie jaar en daar is onder meer vrugtebome op die plaas.
“Hy was ook baie trots op sy boerbokke.”
Sy het gesê haar man was ’n baie goeie narkotiseur en almal wou van sy dienste gebruik maak.
“Hy was ook ’n groot gesinsman en iemand met ’n hart van goud. Hy was ’n grapjas en almal was lief vir hom. Emile was baie gewild onder sy pasiënte en vriende.”
Welgemoed word ook oorleef deur twee kinders, ’n seun (9) en ’n dogter (7), sy ouers wat in Kaapstad woon asook twee broers en ’n suster.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
In ’n soortgelyke voorval het ’n plaaswerker (22) Sondagmiddag naby Geelhoutboom net buite George ook in ’n trekkerongeluk gesterf.
Na verneem word, het twee plaaswerkers op ’n trekker van ’n brug gery en in ’n vlei beland. Een van die werkers het verdrink.
Kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het albei voorvalle bevestig.
Sy het gesê die voorval by Geelhoutboom het Sondag omstreeks 13:45 plaasgevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger