Treinstaking lei tot dood
2009-08-20 09:14
Johannesburg – Die stakings deur Metrorail het een sterfte tot gevolg gehad nadat ‘n persoon Woensdag by ‘n oorvol trein in Khayelitsha uitgeval het.
Metrorail het gesê dat hulle meer werkers in die Wes-Kaap sal aanstel om te help om die massas mense op stasies te probeer beheer.
Die maatskappy het bygevoeg dat hulle hoop om teen Donderdag teen 80% van hul kapasiteit te loop.
Vandag is die vierde dag van stakings deur die vervoerwerkersvakbond Utatu.
“Ons wil pendelaars vra om geduldig te wees en om seker te maak dat hulle nie op oorvol treine klim nie. Hulle moet seker maak dat die deure toe is wanneer die trein ry,” het Sisa Mtwa, hoof-uitvoerende beampte (HUB) van Metrorail in die Wes-Kaap,l gesê.
Nog vier mense is Woensdag beseer toe hulle ook uit oorvol passasierstreine in die Kaap geval het.
Kabeldiefstal het verdere vertragings by Khayalitsha en Mitchells Plein veroorsaak en mense is in hegtenis geneem nadat hulle eiendom by stasies op die Kaapse Vlakte beskadig het.
Metrorail se moedermaatskappy, die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het Woensdag gesê dat hulle nie gaan voortduur met loononderhandelinge nie.
- Sapa