Treinramp: saak van strafbare manslag ondersoek
2010-08-25 11:50
Kaapstad – Aanvanklike ondersoeke in die treinongeluk in Blackheath, wat die lewens van minstens 9 kinders geëis het, toon dat die bestuurder van die taxi glo die spore probeer oorsteek het ten spyte van die sperboom.
“’n Saak van strafbare manslag word ondersoek,” het Billy Jones, polisiewoordvoerder, aan Nuus24 gesê.
Volgens Jones was daar 13 leerlinge van die Kasselsvlei Hoërskool, Sarepta Hoërskool, Laerskool Bellville-Suid, en die Bellville Tegniese Hoërskool in die minibus.
Agt kinders is op die toneel dood verklaar en ‘n negende kind is in die hospitaal dood.
‘n Leerling van die Bellville Tegniese Hoërskool het aan Nuus24 gesê dat onderwysers die leerders huis toe gestuur het omdat ten minste twee van die slagoffers leerders van dié skool was.
Die student, wat nie haar naam bekend wou maak nie, sê sy probeer nog om die trauma van die voorval te verwerk.
Volgens Marvin Swartbooi, ‘n ooggetuie op die toneel, was dit duidelik dat die taxibestuurder die sperboom en die waarskuwingsligte en -tekens geïgnoreer het.
Die trein het glo die agterste gedeelte van die taxi getref en die kinders uit die voertuig geslinger.
“Twee van die kinders wat agter in die taxi was het bewegingloos in ‘n hopie gelê. Daar was baie bloed,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24