Treinramp: Taxi-bestuurder se lisensie opgeskort
2010-11-02 19:20
Kaapstad – Die lisensie van die taxi-bestuurder wat betrokke was by die treinongeluk in Blackheath wat die lewens van tien kinders geëis het, is opgeskort, het die Wes-Kaapse ministerie van vervoer Dinsdag gesê.
Jacob Humphrey se taxi is in Augustus deur ‘n trein getref nadat hy die spore probeer oorsteek het ten spyte van die sperboom.
Humphrey staar nou aanklagte van strafbare manslag in die gesig.
Die ministerie het in ‘n verklaring gesê ‘n verhoor was Dinsdag gehou en daar is besluit om die twee lisensies wat in Humphrey se naam is op te skort.
Die raad het Humphrey skuldig bevind dat hy die voorwaardes van sy lisensie, wat hom toelaat om slegs leerders van sekere skole op die Kaapse Vlakte te vervoer, oortree het.
Sy tweede lisensie is ook opgeskort omdat die raad is oortuig dat Hymphrey nie geskik is om dit te besit nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA