Treine sal Donderdag weer in Kaapstad loop
2010-12-01 20:00
Kaapstad – Metrorail-werkers wat Woensdag in Kaapstad gestaak het sal Donderdag weer begin werk, het die United Transport and Allied Trade Union (Utatu) gesê.
“Die dienste sal soos normaal loop Donderdag. Ons wil pendelaars verseker dat hulle treindienste sal hê,” het Chris de Vos, Utatu se algemene sekretaris, gesê.
Hy het bygevoeg dat beide Utatu en SA Transport and Allied Workers Union-lede sal terugkeer werk toe.
Satawu kon nie bereik word om te bevestig dat sy lede sal terugkeer vir werk nie.
Pendelaars moes Woensdag van alternatiewe vervoer gebruik maak nadat werkers op ‘n staking gegaan het en alle treindienste afgeskaf was.
Die treinwerkers is glo ontevrede oor veranderinge wat aan hulle diensroosters aangebring is.
“Dit was deel van die ooreenkoms dat die rooster sou verander wanneer die werkers hulle salarisverhogings op 4 Desember ontvang. Hulle gaan nie langer ure werk nie, die skofte gaan net verander,” het Riana Scott, woordvoerder van Metrorail, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA