Treindrywer kritiek ná ongeluk
2013-01-31 10:56
Nielen Bottomley, Nuus24, Sapa
Pretoria – Ses mense is in 'n ernstige toestand ná een passasierstrein Donderdagoggend in Pretoria teen 'n ander gebots het, het die nooddienste gesê.
'n Metrorail-treindrywer het kritieke beserings opgedoen.
Die drywer is omstreeks 09:00 per helikopter na die hospitaal geneem, het Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, gesê.
Pieterse het gesê 20 mense het ernstige beserings opgedoen in die ongeluk, wat omstreeks 07:00 plaasgevind het. Altesaam 150 ander mense het geringe beserings opgedoen.
"Die pasiënte gaan na enige hospitaal wat op die oomblik pasiënte kan inneem," het Chris Botha, woordvoerder vir Netcare 911, gesê.
"[Reddingswerk] gaan 'n hele ruk neem."
Die polisie op die toneel het gesê een van die treine het ten tyde van die ongeluk op die spoorlyn tussen Cor Delfos en Saulsville stilgestaan.
Die kraglyne bo die treine is ondermeer in die ongeluk beskadig.
Pieterse het vroeër gesê die spoorlyn tussen Cor Delfos en Saulsville is weens die ongeluk gesluit.
– Volg Nuus24 op Twitter