Trein tref motor, drie sterf
2010-08-10 15:33
Kaapstad – Twee mans en ‘n vrou is dood en drie vroue beseer toe ‘n trein die motor getref het waarin hulle gery het, het die polisie in die Wes-Kaap Dinsdag gesê.
“‘n Driejarige seun het die voorval oorleef sonder enige beserings,” het ao. November Filander, polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Die ses volwassenes en die kind was in die motor toe dit Maandagmiddag omstreeks 15:00 op ‘n treinspoor vasgesit het.
‘n Passasierstrein wat vanaf Touwsrivier na Worcester onderweg was het die wit Toyota Corolla getref en dit vir sowat 50m oor die spoor gesleep voordat die trein tot stilstand kon kom.
Die drie vroue wat ernstig beseer is in die voorval is na ‘n hospitaal in Worcester vervoer.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA