Trein ry oor motor - 2 dood
2009-09-09 14:17
Peet van Aardt
Kaapstad - Twee mans is Woensdagoggend in Stellenbosch oorlede toe 'n trein oor hulle motor gery het.
Volgens die Stellenbosch Verkeersdepartement se botsingsburo het die twee mans (albei geskat in hul veertigs) net na 09:00 in hulle werk se Isuzu KB bakkie van die Adam Taspad afgedraai toe hulle oor die treinspoor wou ry.
Vir een of ander rede het hulle nie die aankomende trein gesien nie, en dié het hulle bakkie toe by die "Farmers kruising" getref.
"Ons weet nie presies wat die oorsaak van die ongeluk was nie, maar dit is moontlik dat die son in die bestuurder se oë geskyn het en sy sig dus belemmer het," aldus supt. Lizelle Stroebel, hoof van Stellenbosch Verkeer se botsingsburo.
Die verkeersdepartement, sowel as die brandweer en ambulanse het spoedig by die ongeluk opgedaag, maar die twee mans is op die toneel dood verklaar.
Niemand in die trein is beseer nie, hoewel die treindrywer erg getraumatiseer was.
- Nuus24