Tref-en-trap-bestuurder ná 'n week opgespoor
2011-11-08 12:07
Kaapstad – Twee verkeersbeamptes het die bestuurder wat ‘n 70-jarige voetganger in ‘n tref-en-trap-ongeluk ernstig beseer het, opgespoor, het die Stad Kaapstad Dinsdag gesê.
Die voetganger, wat kopbeserings opgedoen het, is verlede Woensdag by die kruising van Main- en Fagan-straat in die Strand omgery.
“Terwyl die beamptes die toneel gefynkam het, het hulle op ‘n gebreekte, wit kantspieëltjie afgekom,” het die stad in ‘n verklaring gesê.
“Hulle het die spieëltjie opgetel [en aanvaar dat dit van die motor wat weggejaag het, afgebreek het], getuies op die toneel ondervra en na die beeldmateriaal by die aangrensende vulstasie gekyk.
“Die beamptes het die spieëltjie na ‘n voertuighandelaar geneem, waar daar vasgestel is dat dit dié van ‘n Opel Corsa-afleweringsvoertuig is.”
Verdere inligting wat van die geslotekringtelevisie-beeldmateriaal bekom is het getoon dat ‘n so ‘n Opel kort voor die tref-en-trap by die nabygeleë vulstasie was.
Die nommerplaat is gevolg en het hulle gelei na ‘n woning in die Strand, waar hulle die Opel sonder ‘n kantspieëltjie gevind het. Daar is bevestig dat dit die voertuig was wat die bejaarde omgery het.
Die bestuurder is by die Strand-polisiekantoor in hegtenis geneem op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en omdat die persoon van die ongelukstoneel gevlug het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA