Transito-voertuig gekaap
2011-11-14 21:01
Johannesburg – ‘n Transito-voertuig is Maandag in Oos-Londen gekaap en beroof, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
Volgens kapt. Steven Marais het die voertuig omstreeks 09:00 by ‘n kruising gestop nadat ‘n geparkeerde motor die pad versper het.
Toe ‘n wag uitklim om ondersoek in te stel, het die bestuurder van die geparkeerde motor hom in die skouer geskiet.
Die rowers het toe die voertuig gekaap. Hulle het die gewonde man en twee ander wagte saamgeneem.
Die polisie het hulle en die transito-voertuig omstreeks 09:30 verlate op ‘n grondpad gevind. Die gewonde wag is in die hospitaal opgeneem.
Die rowers het blykbaar gevlug in die motor wat hulle gebruik het in die rooftog nadat hulle ‘n groot hoeveelheid geld uit die transito-voertuig geneem het.
Die polisie stel ondersoek in.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA