Tragedie tref gesin toeriste
2010-06-18 07:20
Gordonsbaai. – “Ek kry hierdie mense net so jammer. In daardie stadium het die kinders seker net nie gedink wat hulle doen nie. Hulle hou nie kop nie.”
Dít was die woorde van Elizabeth du Toit, die eienares van die strandhuis wat deur ’n Amerikaanse gesin gehuur is, oor die twee jong mense wat betrokke was by die tref-en-trap-ongeluk waarin Nicole Murphy (24) van Louisiana in Amerika dood is.
Volgens kol. Hangwani Mulaudzi, die polisie se woordvoerder van die nasionale gesamentlike operasionele sentrum, het die twee susters en hul broer op die sypaadjie van Faure Marine-weg geloop. Hulle is sowat 100 m van die Harbour Island-afdraai deur ’n wit Nissan-dubbelkajuitbakkie getref.
Die bestuurder van die voertuig het na bewering nie stilgehou nie, maar weggejaag. Mulaudzi het gesê die ondersoekbeampte in die saak, ao. Cobus Greeff, het ’n nommerplaat op die toneel gekry met die registrasienommer CEY 56015.
Jeanine van der Merwe (22) het tydens die polisie-ondersoek eers verantwoordelikheid vir die ongeluk aanvaar. Gedurende die ondervraging van ander insittendes het dit uitgekom dit was nie sy wat bestuur het nie.
Mulaudzi het gesê eers teen Woensdag om 15:30 het Kyle McDonald (22) saam met sy ma – die geregistreerde eienaar van die voertuig – en sy prokureur by die polisiestasie opgedaag. Hy het toe erken hy het die voertuig bestuur.
Van der Merwe het gister op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg in die Kaapse landdroshof verskyn.
McDonald het saam met haar verskyn. Die aanklagte teen hom is ook dwarsboming van die gereg, sowel as strafbare manslag en versuim om by ’n ongelukstoneel te stop. Albei beskuldigdes is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die saak is tot Woensdag uitgestel.
Greeff is op soek na ’n man in ’n wit minibus, moontlik ’n E20, wat op die toneel was, maar weg is nadat die nooddienste opgedaag het.
Hy kan met die ondersoek help en moet Greeff by 083 234 6354 of 0 021 865 2317 bel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger