Tradisionele geneesheer in kop geskiet
2010-04-15 15:51
Johannesburg – ‘n 45-jarige tradisionele geneesheer is gewond nadat hy by sy huis in die Phola Park-nedersetting in Mpumalanga geskiet is, het die KwaMhlanga-polisie Donderdag gesê.
Volgens sers. Nonhlanhla Kgosana, polisiewoordvoerder, het die voorval Woensdagaand omstreeks 20:00 plaasgevind.
“Die tradisionele geneesheer het op sy bed in sy kamer gesit, toe twee mans ingestorm en ‘n vuurwapen op hom gerig het. Die slagoffer het glo probeer om die vuurwapen by die mans af te vat,” het Kgosana gesê.
‘n Skoot het afgegaan en die slagoffer is in die voorkop geskiet. Die koeël het glo regdeur die man se skedel gegaan en weer anderkant uitgekom.
“Die slagoffer het na buite gehardloop en om hulp geroep. Sy bure het dadelik die nooddienste ontbied. Hy is in die hospitaal opgeneem en is in ‘n stabiele toestand.”
Volgens Kgosana het die twee verdagtes gevlug sonder om enigiets uit die huis te neem.
- Sapa