Tot 48 beseer in busongeluk
2011-10-19 18:48
Johannesburg – Agt-en-veertig mense is Woensdag in die vroeë oggendure beseer toe ‘n bus teen die muur van ‘n tonnel gebots het naby Makhado in Limpopo en in vlamme uitgebars het, het die polisie gesê.
Volgens kapt. Maano Sadike het die voertuig blykbaar geswaai en beheer verloor binne die Hendrik Verwoerd-tonnel op die N1.
“Die bus het tot ‘n stilstand gekom en aan die brand geslaan. Toe die passasiers die rook en vlamme sien, het hulle paniekerig geraak en deur die vensters uit die bus gespring.”
‘n Tweede bus wat agter die eerste een gery het, kon betyds tot stilstand kom.
“Die passasiers in die tweede bus het egter ook paniekerig geraak weens die vlamme en rook... en ook uit die bus gespring,” het Sadike gesê.
Al die passasiers het beserings opgedoen toe hul uit die voertuie gespring het.
Die eerste bus het van Johannesburg na Bulawayo gereis. Die beseerdes is almal na nabygeleë hospitale geneem.
Die polisie vermoed die bus het die ongeluk gemaak weens ‘n probleem met die remme.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA