Tot 20 in Hillbrow vas vir gesteelde goedere
2011-09-25 18:00
Johannesburg – Twintig mense is oor die naweek in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere, insluitende elektriese toebehore, in Hillbrow, Johannesburg, het die polisie in Gauteng Sondag gesê.
Die vermoede is dat dié items in huisbrake bekom is, het lt. kol. Lungelo Dlamini in ‘n verklaring gesê.
Verder is 17 vuurwapens en 22 gesteelde voertuie oor die naweek teruggevind in die provinsie.
Die inhegtenisnemings en operasie was deel van die voortdurende Veiliger Fees-seisoen-operasie, het Dlamini gesê.
“Dié operasies word oor die provinsie heen uitgevoer om ernstige misdade, drankverwante oortredings en dwelmhandel te takel,” het hy gesê.
Huisbraak, rooftogte by besighede en motordiefstal neig om toe te neem in die aanloop tot die fees-seisoen. Dlamini het die publiek gevra om waaksaam teen dié misdade te wees.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA