'Tornado' tref restaurant in Bloemfontein
2011-10-17 08:11
Bloemfontein – ’n Sterk wind het die naweek minstens R200 000 se skade by ’n restaurant in die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein veroorsaak.
Sofia Augusti, eienaar van die Coco C-restaurant, vertel ’n rukwind “wat soos ’n tornado gevoel het” het hulle Vrydagaand getref.
“Ons het in vier jaar al baie storms beleef, selfs haelstorms, maar nog nooit só iets nie.”
Groot skade is aangerig toe die wind van die meubels op die balkon die lug ingeslinger het.
Die meubels het ’n glasmuur op die balkon getref.
Augusti vertel terwyl leerlinge hier voor hul matriekafskeid op die balkon drankies geniet het, het die sterk wind skielik opgekom.
Hulle is deur die wind na binne gedwing en selfs die gasverwarmers op die stoep is omgewaai.
Kussings en spyskaarte is oral op die persele van ander restaurante en selfs in die water gekry.
Tonie Rossouw, metereoloog in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê met dié dat dit nog nie gereën het nie, is rukwinde of dwarrelwinde nie ’n ongewone verskynsel vir dié tyd van die jaar nie.
Hy sê ligte reën kan die week veral in die Oos-Vrystaat verwag word.
Rossouw meen die eintlike reën wat nou nodig is, kan vermoedelik eers teen die einde van die maand val.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad