Top-beamptes geskors
2009-10-20 11:22
Johannesburg - Die Oos-Kaapse regering het twee beamptes geskors en 33 konsultante se kontrakte oor beweerde ongemagtigde uitgawes beëindig.
Stanley Khanyile, 'n woordvoerder van die plaaslike regering, het gesê enige kontrakte wat tussen die departement en die kontrakteurs bestaan het, is hiermee beëindig.
Die departement sê om sukkelende munisipaliteite te help en dienslewering te verbeter, het hy 'n plan wat 'n bedrag van R17.9 miljoen vir die dienste van konsultante beloop, in werking gestel.
Die departement het ook tenders aan 33 maatskappye toegeken vir die voorsiening van dié dienste in dié provinsie.
Die diensverskaffers is in Februarie aangestel op die gebied van menslike hulpbronne, inligting- en kommunikasietegnologie, finansiële bestuur, algemene munisipale administrasie en regsdienste.
Daar is egter bevind dat die waarde van dié kontrake wat toegeken is R68 miljoen beloop. Die departement beskryf dié uitgawe as "ongemagtig".
Die hoof-finansiële beampte en die seniorbestuurder is geskors.
Al die konsultasie-ooreenkomste is nietig verklaar omdat die tenderproses ongeldig was.
– Sapa