Tolstelsel kry wye opposisie
2011-10-06 07:05
Johannesburg – Opposisiepartye en belangegroepe in Gauteng het ’n verenigde front gevorm om die Gautengse tolstelsel te boikot.
Die DA, die OD, Cope, die VF+, AfriForum en die ACDP het gister ’n gesamentlike veldtog van stapel gestuur en gesê hulle sal alles moontlik doen om te verhinder dat bestuurders op beoogde tolroetes in Gauteng moet opdok.
Die vakverbond Cosatu het gesê hy is ook ten sterkste gekant teen die tolstelsel, hoewel hy ’n aparte veldtog het.
Die tolstelsel sal na verwagting in Februarie volgende jaar in werking tree en motoriste wat daagliks die N1 tussen Pretoria en Johannesburg gebruik sowat R1 000 per maand uit die sak jaag.
Jack Bloom, DA-LPW, het gister by die bekendstelling van die veldtog in die Gautengse wetgewer gesê die partye en breë front van belange-organisasies wil die tolstelsel in sy geheel geskrap hê en sal selfs hof toe gaan indien nodig.
Die regering het reeds sowat R20 miljard aan die Gautengse tolstelsel bestee en na raming sal die tolrekening met nóg R14 miljard styg om die tolgeld deur ’n elektroniese tolstelsel in te samel.
Die veldtog behels ’n petisie en protesoptogte en sal hoofsaaklik op sosiale netwerke gevoer word.
Bloom is oortuig dié veldtog sal die regering swaai.
“As ’n regering (Egipte) omvergewerp kan word deur ’n sosiale netwerk, hoekom kan ons nie ’n tolpad op dieselfde manier keer nie?
“Indien genoeg mense betrokke raak, kan ons dit keer.”
Petisies teen die tolheffings ingevolge die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) van Cosatu, die South African National Civic Organisation en die DA, is reeds by die Gautengse wetgewer ter tafel gelê.
Die staande komitee oor die petisies is in die proses om dit te oorweeg en behoort binnekort terugvoering te gee.
Dinsdag sal ’n mosie teen die beoogde stelsel ook in die Gautengse wetgewer gedebatteer word met die departement van vervoer wat sal moet verduidelik waarom motoriste moet opdok terwyl die nasionale regering R800 miljard in sy begroting het vir infrastruktuurontwikkeling oor die volgende drie jaar.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Woensdag gesê sy regspan is besig om moontlikhede te ondersoek om die tolpadkwessie in die hof te beslis.
“Ons is besig om te kyk of die hele proses wat gevolg is om die tolstelsel in te stel regmatig was en sal dan oor regstappe besluit.”
Volgens Kriel sal AfriForum beslis hof toe gaan indien hy besluit daar is gronde vir so ’n besluit.
Patrick Craven, Cosatu-woordvoerder, het gesê hulle is ten sterkste gekant teen die tolhekstelsel en is in kontak met die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) oor die kwessie.
“Ons grootste probleem met die stelsel is dat besluite geneem word sonder dat die nodige samesprekings ooit gevoer is.
Dit verstom my dat die regering sê die kwessie is bespreek, want hulle het nooit met óns gepraat nie.”
Ismail Vadi, Gautengse LUR vir vervoer, het Woensdag gesê hy is bewus van die petisies wat by die wetgewer ingedien is en is meer as bereid om aan die proses deel te neem.
“Ons sal verantwoording doen aan die wetgewer en reageer op die kwessies in die petisie.
“Dit is ’n aktuele saak waaroor baie mense bekommerd is. Ons respekteer die proses, beskou dit in ’n ernstige lig en is voorbereid daarvoor.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld