Tolke dalk na Maties-lesingsale
2010-10-01 09:00
Die Burger
Stellenbosch
’n Tolkdiens word ondersoek as ’n moontlike oplossing vir die jare lange taaldebat by die Universiteit Stellenbosch (US).
Dit volg nadat onder meer die ingenieursfakulteit sedert die begin van die semester reeds self met ’n tolkdiens begin eksperimenteer het.
Daar was vroeër ontevredenheid omdat van die kursusse in dubbelmedium aangebied is (waar Afrikaans en Engels in een klas gebruik word om ’n lesing aan te bied).
Die groot fakulteite het aan die begin van die jaar parallelmediumonderrig geïmplementeer, waar dieselfde lesing afsonderlik in Afrikaans en Engels aangebied word.
Die taaldebat op kampus was vroeër vanjaar ook ter sprake tydens die universiteitsraadsverkiesing.
Mohamed Shaikh, universiteitswoordvoerder, het bevestig dat ’n mosie oor tolkdienste op die laaste universiteitsraadsvergadering in April inge- dien is.
“Daar is gevra dat ’n navorsingsondersoek oor tolkdienste as onderrigmodus gedoen moet word om sodoende wetenskaplik gestaafde inligting oor die haalbaarheid daarvan te kry.”
Shaikh het bevestig die raad het die mosie aanvaar.
“Wanneer ons in die groter konteks van die akademie werk, is daar nog talle onbeantwoorde vrae wat ons moet verreken sodat ons kan bepaal of dit die aangewese oplossing vir die universiteit is.
“Die navorsing word juis gedoen sodat ons ons bevindings wetenskaplik kan fundeer.”
Ernst Marais, voormalige voorsitter van die Adam Tas-studentevereniging, wat vroeër vanjaar ’n petisie oor tolkdienste aan die gang gesit het, het gesê dié petisie is nog nie voor die raad ter tafel gelê nie.
’n Student, Edmund de Beer, het vertel dat tolkdienste verlede week in ’n telekommunikasiestelsel-klas by die ingenieursfakulteit beskikbaar was. Hy het bygevoeg dit was glad nie steurend nie, maar doeltreffend.
Prof. Hermann Giliomee, voormalige universiteitsraadslid en ’n “uitgesproke voorstander van ’n volwaardige plek vir Afrikaans”, het aan Die Burger gesê die ondersoek na tolke in die klaskamer is ’n welkome ontwikkeling. “Dit is die enigste manier waarop Stellenbosch uit sy gemors gaan kom.”
Prof. Leon de Stadler, hoof van die US se taalsentrum, het bevestig hy het ’n opdrag om te kyk na verskillende taalopsies. “Die idee dat tolking deel is van ons taalbeplanning, was nog altyd daar. Ons ondersoek dit verder en kyk tans na die implikasies daarvan.”
- Die Burger