‘Tolgeld raak ’n politieke kwessie’
2011-11-04 07:00
Suid-Afrika het infrastruktuur nodig om die ekonomie te laat groei en iemand moet betaal vir die bou en opgradering van paaie, het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, Donderdag gesê.
Hy het oor die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) gepraat wat die middelpunt is van ’n stryd oor tolheffings tussen die departement van vervoer, vakbonde, politieke partye en ander rolspelers.
Die kabinet het die e-skyfie-tariewe vir die GFIP se eerste fase goedgekeur, maar die volgende fases gaan heroorweeg word. Die eerste fase is die opgradering van 185 km aan dele van onder meer die N1, N12 en R21. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het reeds 210 km se paaie opgegradeer. Die tweede fase fokus op die bou van nuwe paaie.
In die eerste fase is 34 wisselaars opgegradeer, wat die Allandale-, Rivonia-, William Nicol-, Gillooly- en Elands- wisselaar insluit. Sanral het 42 tolpoorte opgerig waar van elektroniese skyfies gebruik gemaak gaan word om tolgeld in te samel.
S’bu Ndebele, minister van vervoer, het gesê Sanral moet alle werk aan nuwe tolpadprogramme op nasionale paaie staak, maar dit verwys na fase twee, waarin die GFIP beplan het om 560 km van Gauteng se paaie op te gradeer en nuwe paaie te bou.
Roodt het gesê die opgradering en bou van paaie is nodig, maar die tolheffings het nou ’n politieke tameletjie geword.
“Daar moet na die lang termyn gekyk word. Dit sal baie sleg met Suid-Afrika gaan as ons nie ons infrastruktuur in stand hou nie en sal ’n verdere las op die ekonomie plaas. Mense hou nie daarvan om vir iets te betaal waarvoor hulle meen hulle reeds belasting betaal nie.”
Hy het gesê al word tolheffings geskrap, gaan die verbruiker in elk geval betaal.
“Die regering het die afgelope paar jaar al hoe minder aan infrastruktuur bestee. Daar is meer maatskaplike besteding en die (geld)potjie is net so groot.”
Roodt het gesê tolpaaie en dat gebruikers betaal is nie in beginsel verkeerd nie, maar die regering moet sy besteding heroorweeg. Sy raad aan die regering is om amptenare minder te betaal en aan tegnokrate om te besef hulle kan nie alles gee wat mense vra nie.
‘Moenie nou al e-skyfies koop nie’
Die padvragvereniging (RFA) van Suid-Afrika, die DA en die VF+ het padgebruikers aangeraai om nie elektroniese skyfies vir die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te koop nie.
Adv. Anton Alberts, die VF+ se parlementêre woordvoerder oor vervoer, het gister gesê mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, se vroeëre uitspraak dat die Gauteng-tolprojek tot in Februarie 2012 uitgestel is, strook nie met sy nuutste verklaring dat die stelsel in Februarie 2012 ingestel sal word as geen alternatief vir die finansiering gekry kan word nie.
Alberts het gesê sinvolle ander finansiering ís aan die regering voorgelê.
Hy het padverbruikers gemaan om nie nou al die e-skyfies te koop nie, maar te wag tot in Januarie 2012.
Dr. Neil Campbell, Gautengse DA-LPW vir vervoer en paaie, het gesê Sanral stel die e-skyfies bekend met die heffings wat vroeër aangekondig is en motoriste ook aangeraai om die e-skyfies nie te koop nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld