Tolgeld = 2% meer belasting
2011-04-06 06:59
Johannesburg - Bruinbrood se prys kan met sowat 2% styg en Gautengers sal sowat 2% meer persoonlike inkomstebelasting moet opdok as die buitensporige voorgestelde toltariewe in werking tree.
Só sê Mike Schüssler, ekonoom, in ’n navorsingsverslag oor die Gautengse toltariewe wat onder sy leiding vir AfriForum en die padvragvereniging opgestel is.
Die verslag is Dinsdag in Midrand aan die ministeriële komitee wat openbare insette oor die voorgestelde toltariewe moet aanhoor, voorgelê.
Schüssler sê die boukoste wat per kilometer aan dié tolpadprojek bestee is, is tussen 106% en 228% meer as die boukoste per kilometer van vergelykbare internasionale padverbeteringsprojekte.
In die verslag word voorgestel dat ’n organisasie op die been gebring word om toltariewe te reguleer en te voorkom dat padgebruikers en verbruikers uitgebuit word.
“Iemand wat onafhanklik is, moet dringend na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die tariewe kyk,” meen Schüssler.
Dis volgens hom onaanvaarbaar dat padgebruikers en verbruikers verantwoordelik gehou word vir die koste.
In die verslag word ook bevind dat die maandelikse inkomste van R300 miljoen wat Sanral volgens sy eie konserwatiewe beramings uit Gautengse toltariewe sal ontvang, aansienlik meer is as die R193 miljoen wat maandeliks benodig word om die projek se koste van R20 miljard oor 20 jaar te finansier.
Schüssler sê dit beteken in die praktyk dat die voorgestelde toltariewe nie net ten doel het om die projek te finansier nie, maar om ook ’n inkomstebron te word ten koste van padgebruikers.
“Hoewel nasionale paaie in Gauteng net 4,5 % van die totale lengte van die nasionale padnetwerk beslaan, gaan Gautengse tolpaaie na raming teen 2012 tussen 58% en 62% van Sanral se inkomste genereer.
“Die finansiële las wat die nuwe tolpaaie op Gautengers gaan plaas, is gelyk aan ’n 2%-verhoging in persoonlike inkomstebelasting. Arm mense gaan ook besonder hard getref word deur die styging in basiese produkte se pryse.”
- Beeld