Toiletprotes kring nie uit
2010-06-03 08:05
Die Burger
Kaapstad – Die protesaksie oor die toiletdebakel in die strate van Khayelitsha was gister minder gewelddadig as Dinsdag. Die polisie monitor die gebied steeds dag en nag.
Intussen het ’n burgemeesterskomiteevergadering plaasgevind sonder dat daar na toilette verwys is, en het die polisie in Khayelitsha gesê die ANC-jeugliga is nié betrokke by die verset in die gebied nie.
Klein groepe mense het hier en daar nog buitebande gebrand en paaie met stukke sement en rommel versper.
Kapt. Anneke van der Vyver, woordvoerder van die polisie in Khayelitsha, het gesê die polisie het die kleiner groepe mense uiteengejaag wat hul ongelukkigheid wou wys met die Kaapse stadsraad se verwydering van die oop toilette in Makhaza.
Dan Plato, burgemeester, het hom midde-in ’n drama bevind nadat ’n nuuskonferensie Maandag die indruk gelaat het dat hy openbare geweld in die gebied aangemoedig het.
Plato het gesê hy is buite konteks aangehaal.
Die aantal gemeenskapslede wat op klagte van openbare geweld of die verbreking van die Wet op die Regulering van Openbare Byeenkomste aangekeer is, was meer as die syfer wat die polisie Dinsdag beskikbaar gestel het.
Van der Vyver het gesê daar is agt mense vir openbare geweld aangekeer in die omgewing van Baden Powell-weg en nog agtien in die omgewing van Walter Sisulu-rylaan.
Lulama Zenzile berig die media is gister in Khayelitsha meegedeel dat dit nie lede van die ANC-jeugliga is wat hulle skuldig maak aan die optredes van openbare verset nie, maar dat dit inwoners is.
Daar is glo gistermiddag gedreig dat busse van die Golden Arrow-busdiens aan die brand gesteek gaan word in ’n nuwe vlaag van openbare geweld.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger