Toeriste verloor als toe motor brand
2010-07-16 09:24
Buks Viljoen en Maatjé Hugo
Johannesburg - Twee oorsese toeriste se Wêreldbeker-toer het Donderdagoggend dramaties geëindig toe hul motor in die Krugerwildtuin uitgebrand het.
Marjory Table (35) en Sylvain Breteau (38) het sedert die einde van Wêreldbeker-sokkertoernooi deur die land getoer.
Hulle sou Sondag terugvlieg Mauritius toe waar Table woon.
Breteau sou blykbaar van daar vlieg na Frankryk, sy tuisland.
Die twee het vroeër die week in die wildtuin aangekom.
Hulle het Woensdag laatmiddag in Onder-Sabie aangekom en in die woonwapark tent opgeslaan.
Hulle het Donderdag omstreeks 08:00 al hul besittings in die Toyota Corolla gepak wat hulle by Budget gehuur het.
Hulle was besig om hul medekampeerders te groet toe rook uit die motor begin trek. Die voertuig was binne minute in ligte laaie.
Matie Hugo en haar gesin het skaars 50 m van waar die twee se tent gestaan het, gekampeer.
"Ons het harde plofslae gehoor en aanvanklik gedink dit is die veldwagter wat skote naby die kamp skiet.
“My man, Dirk, het gaan kyk en toe op die twee verskrikte mense afgekom waar hulle naby die brandende motor gestaan het.
“Die hele motor, wat skaars 10 m van ’n woonwa gestaan het, was in vlamme gehul.”
Medekampeerders het die brand probeer blus, maar die vlamme en hitte was so oorweldigend dat hul pogings vergeefs was.
Toe ’n brandslang uiteindelik aangelê is, was die motor en sy inhoud reeds verwoes.
Niemand is beseer nie en geen woonwa of tent is beskadig nie.
Table en Breteau het in gebroke Engels aan die Hugo’s vertel al hul persoonlike besittings, paspoorte en geld is in die brand verwoes.
William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, het gesê gratis oornagverblyf en kos is aan die twee toeriste gegee.
“Ons het hulle ook gehelp om hul onderskeie ambassades te kontak sodat noodreisdokumente gereël kan word.”
Die twee vertrek Vrydag in ’n ander motor wat Budget vir hulle wildtuin toe gebring het Johannesburg toe.
- Beeld