Toeriste in spog-gastehuis beroof
2009-11-26 08:09
Malani Venter
Kaapstad - Twee Duitse toeriste wat Suid-Afrika die afgelope tien jaar gereeld besoek, is Dinsdagoggend vroeg in ’n vierster-gastekamer buite die dorp van besittings van duisende rande beroof.
Ondanks die veiligheidsmaatreëls by dié spog-akkommodasie is Michael Wienands (49) en sy vrou, Michaela (45), deur drie gewapende mans in klapmusse in hul selfsorg-gastekamer by die Laibach Vineyards-lodge langs die R44 tussen Stellenbosch en Klapmuts oorval en beroof. Hulle is nie beseer nie.
Volgens kapt. René Matthee, woordvoerder van die polisie in Stellenbosch, het een van die mans deur ’n oop venster toegang tot die kamer gekry.
Hy het die deur van die kamer waar die Wienands geslaap het vir sy twee makkers oopgemaak. Die egpaar het wakker geword en begin skree toe hulle die mans gewaar.
“Die een aanvaller het die vrou aan die arm gegryp en gepluk. Sy is nie beseer nie. Haar horlosie en ring, wat op die bedkassie was, is gebuit,” het sy bygevoeg.
Twee skootrekenaars, twee beursies, paspoorte en verskeie ander besittings is ook gesteel. Die mans het gevlug en is steeds op vrye voet.
Van die gesteelde besittings is later deur die polisie in die nabygeleë wingerde gevind.
Die egpaar, wat nie met die media wil praat nie, het intussen ander verblyf in Kaapstad gekry en sal Saterdag na hul vaderland terugkeer, het Matthee gesê.
Volgens Michael Malherbe, bestuurder van die Laibach Vineyards-lodge, is dit die eerste voorval van gewapende roof wat daar plaasgevind het.
“Ons bure is twee weke gelede beroof. Ons vermoed dit is dieselfde mense wat hier ook toegeslaan het. Dit is vir ons ’n groot skok. Ons hoop hulle word vasgetrek,” het hy gesê.
Vroeër is berig ’n 37-jarige vrou is op 9 November deur vier gewapende mans in klapmusse buite haar huis op die plaas De Goede Sukses langs die R44 oorval.
Intussen het die vierde gewapende rooftog vandeesmaand in die Paarl Woensdag in die vroeë oggendure plaasgevind. Volgens kapt. Louise du Plessis, die Paarl se polisiewoordvoerder, is ’n vrou en haar dogter in hul huis op ’n landgoed langs die Simondiumpad omstreeks 01:30 deur drie gewapende mans oorval. Hulle is nie in die aanval beseer nie, maar ’n skootrekenaar is gebuit.
Die mans het klapmusse gedra en was met messe gewapen.
–Die Burger