Toeris by Gautrein-stasie geskiet
2010-07-01 08:50
Johannesburg – ‘n Amerikaanse toeris is tydens ‘n rooftog in Sandton geskiet, net na hy van die Gautrein afgeklim het vir sy vakansie in Suid-Afrika.
Volgens lt.kol. Leon Engelbrecht, ‘n polisiewoordvoerder, is David Bueche (35) aangerand en in sy arm geskiet nadat hy Woensdagaand by Marlboro-stasie afgeklim het.
Die voorval het omstreeks 21:00 gebeur.
“Bueche het in Northwaystraat geloop toe die voorval plaasgevind het. Hy is toe deur vier mans in ‘n onbekende voertuig aangerand en geskiet,” het Engelbrecht gesê.
Bueche het Woensdagaand op die OR Tambo-lughawe aangekom vir ‘n vakansie en het die Gautrein na die Marlboro-stasie geneem.
Hy is na die Sunninghill-kliniek geneem en is tans in ‘n stabiele toestand.
“Hy is hier vir vakansie, nie vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi nie,” het Engelbrecht gesê.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA